Maar toe hulle by goeie weiding gebring is, het hulle hulle vol geëet, en toe hulle vol geëet was, het hulle hoogmoedig geword. Daarom het hulle My vergeet. (vers 6)
Dié aanklag laat my dink aan die man wat dringend ’n parkering moes kry, en toe vurig gebid het dat die Here vir hom een sal gee. Terwyl hy bid, gaan daar ’n parkering reg voor hom oop. Toe sê die man: “Toemaar, Here, ek het self ’n parkeerplek gekry.”
Dit wat Israel gedoen het, is tipies mens. Ons ontvang die Here se seëninge, maar dink dis ons eie prestasie. Ek het mos hard gewerk vir die bevordering, so dis net reg dat ek dit kry. Só redeneer ons God se hand uit ons lewe weg.
Hosea waarsku dat dit lewensgevaarlik is om God te ignoreer. Sy seën kan in ellende verander (vers 7). God is nie ’n soort noodwiel wat gerieflik daar is as ons Hom nodig het, maar andersins dink ons nie juis aan Hom nie.
Ja, jy mag en moet die goeie gawes uit God se hand geniet. Dis ons voorreg as sy kinders. Maar jy mag nie op God se gawes beslag lê asof dit jou goeie reg is nie. Dit bly die guns van God.