Hy moes deur Samaria gaan. (vers 4)
Net enkele opmerkings oor hierdie gesprek:
Dinge gebeur nie maar net toevallig nie. Dit lyk toevallig dat Jesus juis by daardie dorpie aangekom het. Hy is moeg en gaan sit by die fontein, alleen, terwyl sy dissipels in die dorpie ingaan om te gaan kos koop. Net mooi toe kom ’n Samaritaanse vrou water haal. Ewe toevallig, lyk dit vir ons. Maar agter dié ontmoeting sit God. Jesus móés daar wees.
Ons kan by Jesus leer hoe om ontmoetings en gesprekke te hê. Hy sit nie daar as die Een wat alles kan doen en daarom die gesprek oordonder nie. Hy maak Homself afhanklik van haar hulp. Partykeer dink ons ons moet al die antwoorde hê, ons moet al die dinkwerk doen, en dan moet ons nog alles doen ook. Jesus wys dat ’n mens weerloos en genaakbaar mag wees. Dis vanuit daardie broosheid dat sy gesprek met die vrou betekenisvol word.
Jesus het iets om haar te bied (vers 10). Dalk is dÃt die diepste vraag wat ek en jy vir onsself moet antwoord: Wat het jy om aan iemand anders te bied? Dalk is dit die eintlike rede hoekom ons gesprekke vermy?