Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk ’n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.’ (Eseg 13:10)
Die muur (vers 10) staan vir die hoop van die Jode toe Nebukadnesar se magte gedreig het om die land en Jerusalem te verwoes. Dit was ’n valse hoop, soos Esegiël (en Jeremia voor hom) telkens gewaarsku het. Dit was egter nie wat die mense wou hoor nie. Hulle het geglo dat God op die een of ander manier hulle situasie sou omkeer.
Die vals profete en waarsêers (soos bv Gananja in Jer 28) het hierdie ongegronde hoop aangeblaas. Hulle het die muur van hoop stukrag gegee en dit met hulle uitsprake afgewit, sodat dit al hoe meer geloofwaardig gelyk het. Maar dié muur bestaan nie, sê die Here (vers16).
Jesus het dieselfde beeld gebruik toe hy na die skrifgeleerdes en Fariseërs verwys het as witgeverfde grafte (Matt 23:27). Hulle vroom uiterlike steek egter ’n klomp doodsbeendere weg.
Oppas vir predikers wie se woorde altyd streel en nooit teregwys nie; wat sê wat die mense wil hoor; wat gewild wil wees. Toets hulle woorde aan die volle Skrif voor jy alles vir soetkoek opeet.
Views: 20