Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag. (vers 10)
In hierdie lied besing die man weer sy geliefde se skoonheid en begeerlikheid met beelde wat ons nie almal ewe goed verstaan nie, en tog is die bedoeling baie duidelik. Sy bewondering is onverbloemd en vir ons preutse Afrikaners amper té blatant eroties. Daarom het baie die boek probeer vergeestelik.
Die vrou se antwoord op haar man se bewondering moes vir hom soos musiek in sy ore wees. Sy behoort nét aan hom, en hy aan haar. Sy het allerlei heerlike vrugte, vars en oud (dws alles), vir hom gebêre; nét vir hom.
DÃt is wat ’n huwelik so ’n heerlike plek van rus en sekuriteit maak – dit is eksklusief, en in dié eksklusiewe ruimte kan man en vrou hulleself sonder skroom volledig aan mekaar gee, soos dit in die Tuin van Eden was (Gen 2:25).
In baie mense se verstaan van die liefde is die man die jagter wat die inisiatief moet neem, en die vrou is veronderstel om passief te wees. Maar nie die vrou van Hooglied nie. Sy neem ook insiatief (vers 11). Dit maak die liefdespel opwindend.