As ’n stuk kleinvee bo die vermoë van die persoon is, bring hy as skuldoffer vir sy sonde twee tortelduiwe of twee ander duiwe vir die Here, een as sondeoffer en een as brandoffer. (vers 7)
Dit gebeur soms dat jy iets verkeerds gedoen het, en aanvanklik nie veel daarvan gedink het nie. Maar dan begin jou gewete jou pla. Of iets gebeur wat jou daaraan herinner, soos die oumense gesê het: jou sonde haal jou in. Hoe dan gemaak?
Met die skuldoffer baan God die weg terug na Hom. Dit kon ’n skaapooi of ’n bokooi wees (vers 6), of, as jy te arm was daarvoor, sou ’n paar duiwe ook goed wees. Dit gaan immers nie oor hoe duur die offer is nie, maar oor die gees waarin die offer gebring word. Dis nie net ryk mense wat met ’n skoon gewete van God af kan weggaan nie. Trouens, Maria en Josef het ook ’n armmans-offer gebring ná Jesus se geboorte (Luk 2:24). Jesus het geleer dat jy nie God se guns met jou baie geld kan koop nie (Mark 12:42-43).
Hoofsaak is: maak reg met God, en ook met dié wat jy te na gekom het (Matt 5:23). Só kom jy vry van ’n slegte gewete.