Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. (vers 1)
Toe ek in die weermag was vir my kapelaansopleiding, het ons kursusleier graag in die moederskamer gesit (ons het in die kerk klas gehad). Daar kon hy ons dophou, maar ons kon hom natuurlik nie sien nie. Jy kon nooit weet of hy vir jou kyk nie, of selfs daar is nie. Dit het my baie ongemaklik gemaak. Netnou sien die man jy doen iets verkeerds, en dan is jy in groot moeilikheid.
Daar is mense wat só oor God dink: dat Hy alles van ons weet en alles wat ons dink en doen, sien. Dit laat hulle benoud en vasgekeer voel. Dawid onderstreep in hierdie psalm dat dit inderdaad so is dat God alles van ons weet. Hy weet selfs wat ons nog gaan dink (vers 4)! Ons kan nêrens vir Hom wegkruip nie.
Tog maak dit Dawid nie benoud nie, want God is nie soos ’n gestrenge kursusleier wat gesigloos wegkruip agter ’n ondeurdringbare glasruit nie. Hy is ons liefdevolle Vader, wat met sagte oë na jou kyk. As jy ooit daaraan twyfel, kyk dan na Golgota, want daar sien jy hoe ver God bereid was om te gaan om jou te beskerm en te red.