Iemand wat ’n velsiekte het wat hom onrein maak, moet geskeurde klere dra en sy hare onversorg laat. Hy moet ook die onderste deel van sy gesig bedek en uitroep: ’Onrein! Onrein!’ (vers 45)

’n Mens kan jou nouliks indink in die ellende waarin iemand met ’n velsiekte (wat hulle onder die generiese term melaatsheid geklassifiseer het) destyds moes leef: totaal afgesny van enige sosiale kontak, selfs met jou huisgesin, en uitgestoot uit die geloofsgemeenskap. Dit was destyds nodig om te keer dat die siekte onder die mense versprei, omdat daar nie behoorlike geneesmiddels was nie. En dan het ons met Covid gekla oor die dra van gesigmaskers!
God is besorg oor die gemeenskap se gesondheid. Maar Hy is ook besorg oor die indiwidu. Daarom gee Hy riglyne oor hoe ’n melaatse teruggeneem kan word in die gemeenskap en rein verklaar kan word. Dit was die taak van die priesters (Lev 14; vgl Luk 5:14).
Hierdie gesondheidsmaatreëls behoort ons te laat dink oor gesondheidsrisiko’s wat ons aangaan in ons najaag van rykdom en gemak; dinge soos besoedeling, aardverwarming en uitwissing van natuurlike bronne en habitat, alles in die naam van vooruitgang en ontwikkeling. God is begaan oor die mensdom se gesondheid. Dit wat ons ons veroorloof, behoort dit te reflekteer.

image_pdfimage_print

Views: 9

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.