Die hele Israel moet My as die Heilige erken. Ek, die Here, heilig julle. (vers 32)
Nie net priesters nie; ons almal word deur God geheilig!
Hoe gebeur dit? Heiligheid is nie in die eerste plek iets wat jy moet doen nie, soos kerk toe gaan en nie dobbel en drink en vloek nie. Dit natuurlik ook. Maar ons heiligheid lê nie in die eerste plek in wat ons doen nie; dit lê in ’n verhouding met die Here God. ’n Heilige mens is iemand wat aan die Here behoort, wat aan die Here vasgebind is, wat Hom bo alles liefhet en daarom wil dien en volg en gehoorsaam. Dáár begin heiligheid – by ’n innige en opregte liefde vir die Here.
Daarom is heiligheid ’n gawe van die Here, wat Hy deur die werk van die Heilige Gees aan ons wil skenk (vers 32); ’n gawe waarvoor ons moet bid, wat ons moet najaag, waaraan ons moet werk. Heiligheid is iets wat ons ontvang na die mate waarin ons nader aan God lewe. Heiligheid is die wonder dat jy die beeld van die Here Jesus begin vertoon in jou lewe, namate jy groei in die geloof, nader aan die Here kom, aan Hom begin vasgroei.
Views: 6