As iemand ’n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word … (vers 19)
Ons ken hierdie regsbeginsel uit die Nuwe Testament. Jesus verwys daarna in Matt 5:38, waar Hy Eks 21:24 aanhaal: “’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Dít wat jou aangedoen is, moet in gelyke mate aan die oortreder gedoen word.
Dit is belangrik om te verstaan dat dit riglyne vir regters was vir wanneer hulle oor ’n gepaste straf moet besluit, sodat die straf en die oortreding in balans is. Dit was nie vir persoonlike vergelding bedoel asof elkeen die reg in eie hande kon neem en die ander in eie munt terugbetaal nie.
Dit is hierdie siening waarteen die Here Jesus standpunt ingeneem het in Matt 5:39. In ons persoonlike lewe mag daar van vergelding en wraak geen sprake wees nie. Jesus vra dat ons mense se woede moet ontlont, nie met erger woede nie, maar met vriendelikheid, behulpsaamheid en saggeaardheid.
Makliker gesê as gedaan? Inderdaad. Maar wie het gesê dis maklik om ’n navolger van Jesus te wees? Dit is waaraan Petrus ons herinner in 1 Pet 2:21-23. Hy het nie teruggeskel of met wraak gedreig nie, maar dit aan God oorgelaat. Ek en jy moet ook.
Views: 13