Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy. (vers 30)

Die hoofstuk oor geloftes en loskoopwaardes is nie regtig meer vir ons relevant nie, behalwe dat dit ’n mens se aandag vestig op die onbreekbaarheid van ’n gelofte aan die Here. In Pred 5:1-4 waarsku die Prediker dat jy mooi moet dink voordat jy ’n belofte of gelofte aan God maak, want beloftes maak skuld.
Die gee van tiendes (vers 30-33) is soms aan ’n gelofte verbind (Gen 28:20-22), of aan vrywillige gawes uit dankbaarheid vir God se hulp en seën (Gen 14:17-20); daarom dat dit hier by die geloftes genoem word. Wat my getref het, is dat die tiendes aan die Here behoort en nie teruggevat of teruggehou mag word nie, want dis in die eerste plek nie die gewer van die tiende se eiendom nie.
Ons dink nie vandag meer so wetties oor ons dankoffers nie. Elkeen moet gee soos hy dit in sy hart voorgeneem het, en daar behoort nie dwang by te wees nie, het Paulus (2 Kor 9:5-7) gereël. Tog gee jou dankoffer uitdrukking daaraan dat jy besef alles wat jy het, kom van die Here af.

Naskrif: Ek gaan vir die volgende maand die dagstukkies onderbreek. Ek gaan (DV) Pinksterdienste in Betlehem Panorama hou, en daarna gaan ons vakansie hou met ons dogter wat uit die VSA by ons kom kuier. Intussen bid ek jou ’n geseënde Pinkstertyd toe.

image_pdfimage_print

Views: 38

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.