In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. (vers 2)
Hierdie hoofstuk is die gelukkigste hoofstuk in die verhaal. Dit vertel van verlossing en dankbaarheid, ’n wonderwerk en ’n loflied. Jona ontdek dat God se vasbeslotenheid om goed te doen, selfs vir dié wat straf verdien (soos Jona), ten goede kom.
Die hoofstuk berei ons voor vir die res van die verhaal. Jona verdien die dood, hy is eintlik reeds dood (vers 6), want hy het probeer om God se opdrag te verontagsaam. Tog kon hy God nie ontwyk nie en oorleef die watergraf op ’n ongelooflike wyse, want God was vir hom goed. ’n Mens sou verwag dat dit sy hele uitkyk op die lewe vorentoe sou kleur. Daarom die teleurstelling as jy later hoofstuk 4 lees. Jona wou ná alles wat met hom gebeur het, nog steeds God se goedheid net vir homself hou!
Dis maklik om God om genade te smeek as jy in die nood is en dan allerhande beloftes aan God te maak (vers 9). Die eintlike toets vir jou geloof lê in wat jy doen as jou voete weer op die grond kom.