Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom. (vers 2)
Horeb is ’n ander naam vir die berg Sinai, waar Israel omtrent ’n jaar lank vertoef het (Num 10:11-12) om met die Here ’n verbond te sluit. Hulle het drie maande ná die uittog by Sinai aangekom (Eks 19:1-2). Daarvandaan tot by Kades-Barnea aan die grens van die beloofde land was dit ’n korterige reis van elf dae. Uiteindelik sou dié reis die Israeliete egter 40 jaar neem omdat hulle God se leiding nie vertrou het nie (vers 26).
God se leiding is nie noodwendig maklik om te volg nie. Israel moes teen inwoners en stede gaan veg om die beloofde land in te neem, en hulle het nie daarvoor kans gesien nie, met katastrofiese gevolge (vers 34-35). Want om God se leiding te volg, is nie net ’n saak van wilskrag en dapperheid nie; dis veral ’n saak van geloof en vertroue.
Dis vandag nog so. Dikwels maak ons lewensreis vreemde kronkels omdat ons nie God se leiding volg en doen wat Hy vra nie, maar ons eie kop volg. Die gelowige, sê Paulus in Gal 5:13-26, laat hom deur die Gees lei. Só bly jy op God se pad.