Maar deur julle toedoen het die Here destyds vir my kwaad geword en daarom het Hy nie nou my gebed verhoor nie. Hy het vir my gesê: “Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie.” (vers 26)
Moses se lewenstaak was om die Israeliete te lei na die beloofde land. Self kon hy nie die land ingaan nie. Dit was vir hom ’n bitter pil, en hy het die Israeliete daaroor verwyt. Dit was immers húlle wat gemaak het dat hy kwaad geword het en nie die Here se opdrag reg uitgevoer het nie (Num 20:2-12). ’n Mens kan egter nie jou eie aandeel aan ’n saak wegpraat deur ander die skuld vir jou ongehoorsaamheid te gee nie.
Moses het die Here gesmeek om sy besluit te verander (vers 23). As jy naby die Here leef, soos Moses, mag jy met vrymoedigheid met Hom oor jou behoeftes praat. Daarom noem Dawid Hom “Hoorder van gebed”. Maar jy moet ook weet dat Hy nie alles gee soos jy dit wil hê nie. Daar kom ook ’n tyd dat God se “nee” finaal is, soos Moses moes hoor (vers 26), en Paulus ook (2 Kor 12:6-10). Dan moet jy God se besluit aanvaar.