Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. (vers 4-5)
Hierdie twee verse vorm die kernbelydenis van Israel. Elke kind het dit uit sy kop geken, want dit is telkens in die samekomste, en ook by die huis, herhaal: Die Here is uniek. Hy is die enigste Here. Hy is een. Dít is wat hierdie belydenis sê. Daar is niemand soos Hy nie. Te midde van ’n wêreld waar talle gode aanbid is, is dít die onderskeiding van Israel se geloof: Hulle aanbid net die Here, en Hom alleen.
Die Here Jesus het hierdie belydenis aangehaal toe Hy gevra is na die belangrikste gebod in die wet (Mark 12:29-30). Dit is ook óns belydenis. Die Geloofsbelydenis van Nicéa begin só: “Ons glo in een God …” En die Nederlandse Geloofsbelydenis bely in Art. 1: “Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ’n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.”
Party mense is gemaklik daarmee dat die verskillende godsdienste slegs verskillende paaie hemel toe is. Nee! sê vers 4. Die Here is die enigste God. Hóm alleen moet ons liefhê en dien.
Views: 11