As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes. (vers 13-14)
Daar is Christene wat uitsprake van die Here soos wat ons hier kry, op indiwidue van toepassing maak, en tot die slotsom kom dat dit met gelowige, getroue Christene goed en voorspoedig gaan, en dat teenspoed jou tref as jy nié getrou is nie (vers 17). As teenspoed oor jou pad kom, beteken dit dat jy iewers in jou lewe voor God van die merk is. Dit is hoe die sg. voorspoedsteologie redeneer.
Maar ons weet almal van Godvresende mense met wie dit sleg gaan; vir wie teenspoed tref sonder ’n klinkklaar aanwysbare rede. Die klassieke voorbeeld hiervan is Job. Ons moet ook onthou dat die uitsprake van seën wat volg op gehoorsaamheid, aan die volk Israel gemaak is met wie God ’n verbond aangegaan het, nie aan indiwiduele gelowiges nie.
God verwag natuurlik van ons as indiwiduele gelowiges ook gehoorsaamheid. Dan kán jy rus in die wete dat jou lewe en toekoms in God se hande is.