Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf … (vers 3, 2020-vertaling)

Anders as die ander Evangeliste, begin Lukas met ’n verduideliking vir sy “verhaal” (vers 1). Sy verhaal is nie uit die duim gesuig nie, maar die produk van deeglike navorsing van ander bronne (waarskynlik onder andere die Evangelie van Markus) en die raadpleging van ooggetuies en dienaars van die Woord.
Hierdie inleiding gee vir ons ’n kykie in hoe die Gees verskillende mense gebruik het om hulle deel van die Bybel neer te skryf. In Lukas se geval het dit gekom met harde werk. Goddelike inspirasie is iets anders as ’n diktee deur die Heilige Gees, met die skrywer bloot ’n instrument. Die Bybel is die produk van God se leiding, én menslike arbeid. Dit is God se Woord én mensewerk. Verstommend.
Die skrywer was waarskynlik die geneesheer Lukas (vgl Kol 4:14 en 2 Tim 4:11). Hy noem sy leser Teofilus. Die naam beteken “iemand wat God liefhet”. Ons weet nie wie hy was nie, maar ons kan onsself in dié naam terugvind. Die Evangelie is geskryf vir jou wat God liefhet. Wat ’n voorreg!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.