En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is. (vers 20)
Ná die suksesvolle sending van die twee en sewentig dissipels, kom hulle vol blydskap terug (vers 17). Die sending was ’n reusesukses. Selfs die bose geeste het hulle aan hulle onderwerp. Jesus sien dit as deel van Satan se ondergang (vers 18), en deel in hulle vreugde. Dit is hoekom Hy gekom het.
Die rede vir hulle sukses het natuurlik nie in hulleself gelê nie, maar daarin dat Jesus hulle daartoe bemagtig het (vers 19). Daarom waarsku Hy hulle dat hulle nie triomfantalisties moet raak en hulleself op die skouer klop nie (vers 20).
Dis ’n groot versoeking om spoggerig te voel wanneer jy iets vir die Here doen, want dit bly genade dat God jou gebruik en deur jou werk. Daarom pas beskeidenheid ons (Rom 12:3).
’n Mens kan ook só opgaan in jou diens aan die Here dat jy die wonder dat jy ’n kind van God is en jou plek in die hemel bespreek is, as vanselfsprekend kan beskou.
Wanneer laas het jy in verwondering voor God gebuig en gejubel oor jou saligheid?
Views: 4