Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. (vers 28)
Jesus het hierdie drie gelykenisse in Luk 15 vertel om die gesindheid van die Fariseërs en skrifgeleerdes aan die kaak te stel (vers 2). Op die voorgrond in al drie gelykenisse is vreugde – in die hemel oor ’n verlore besitting wat gevind is (vers 7 en 10), en in die ouerhuis (vers 23). DÃs hoe God oor verlore mense (vers 1) voel.
Die laaste gelykenis stop egter nie by die vreugde nie. Dit vertel van die oudste broer se ontevredenheid oor die manier waarop hulle pa die jongste broer terug verwelkom. Sy jonger broer is ’n nikswerd en verdien nie hulle pa se vreugde nie. Hy wil hom nie eers as ’n broer erken nie (vers 30).
Dit laat my wonder oor ons, getroue lidmate, se ongeërgdheid oor mense wat uit die kerk wegraak, of erger nog, in ongeloof verval. Hulle ken tog die weg, redeneer ons dan. Dis hulle besluit om weg te loop. En ons verlang nie na hulle terugkeer na die vaderhuis soos die pa nie.
Jesus sê ook die jongste seun is die Vader s’n, en hoort by Hom. Laat mens dink.