Wat ’n dwaas geoes het, word deur honger mense opgeëet; hulle haal dit uit selfs waar dit tussen die dorings weggepak is. (vers 5)
In sy oorywer om Job te leer, begin Elifas nou beledigend raak. Hy sinspeel daarop dat Job soos ’n dwaas optree. Later speel hy ook direk in Satan se hand deur te sê dat as Job maar net sy sonde bely (wat hy nie gepleeg het nie) en na God terugkeer, God vir hom mildelik sal voorsien (vers 24-26). Hy moedig Job aan om hom tot God te wend vir die voordele wat dit vir hom kan bring (vgl weer 1:9-11).
In ons goedbedoelde (maar dikwels eiegeregtige, selfsugtige of ondeurdagte) preke vir ander loop ons die gevaar om soos Elifas medewerkers van Satan te word, omdat ons nie God se plan verstaan of genoeg inligting het om selfversekerd (vers 27) te kan verklaar dat ons die feite in pag het nie. Selfs Petrus het hom hieraan skuldig gemaak (Matt 16:23), waaroor Jesus hom ernstig berispe het: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
Geen wonder nie dat Jakobus die tong ’n wêreld vol ongeregtigheid noem (Jak 3:6)!
Views: 15