Ek is gedaan, my tyd is verby, net die graf bly vir my oor. (vers 1)
Job is ’n gebroke man. Hy het nie net sy familie, besittings en gesondheid verloor nie; ook die laaste bietjie trots wat hy nog gehad het, is van hom gestroop (vers 6). Op aarde het hy niemand meer om hom by te staan nie, maar in die hemel wel (vers 19). Daarom pleit hy dat God vir hom ’n borg moet wees en hom uithelp in sy nood (vers 3). Net God kan hom nog help.
Daar is vir Job niks oor om voor te lewe nie (vers 11), en tog … Hoewel Job eintlik wens dat alles net verby sal gaan en hy die rus van die dood sal ervaar, is hy tog bang dat die hoop dat God sal antwoord daarmee ook sal sterf, en saam met hom na die doderyk toe sal afgaan (vers 16). In sy donkerste uur laat hy steeds die hoop op ’n woord van God nie vaar nie.
Te midde van Job se worsteling groei sy sekerheid dat God hom nie sal los nie. Vroeër het hy gewens hy het Iemand om sy saak te behartig (9:33-34); nou wéét hy God sal help (vers 19).
Views: 5