Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd op ’n vrugbare heuwel. (vers 1)
As ’n mens hierdie lied oor die Here en sy wingerd lees, hoor ’n mens God se liefde vir sy mense, maar ook die pyn in sy hart omdat sy mense sy liefde in sy gesig teruggegooi het. Alles wat Hy gedoen het en belê het in sy volk, was tevergeefs, want die wingerd se druiwe was suur (vers 4).
Ons is geneig om net oor ons eie situasie te dink, oor hoe óns voel, as ons voor God staan. Maar hoe voel God? Wat maak ons liefdeloosheid, of selfsug, of louheid, of onreg, of noem maar op – wat doen dit aan God? Jesaja 5 sê: dit breek sy hart.
Dit is die een ding wat hierdie lied by my tuisbring. Die ander ding is die suur druiwe. Die opbrengs op God se belegging in sy mense stel Hom diep teleur, omdat hulle nie aan sy verwagting voldoen het nie.
So, die vrae wat ek myself vra, is: Hoe voel God oor my? en: Beantwoord ek aan my roeping en God se verwagting? Gaan dit oor Hom, of oor my?