My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (Jer 2:13)
Israel het belowend, begin. Alles was reg in die begin-jare, toe Israel God se bruid geword het (vers 2). Israel het God met volledige oorgawe gedien en Hom onvoorwaardelik gevolg, selfs die woestyn in. Hulle was geheilig aan die Here, afgesonder vir Hom (vers 3), en Hy het hulle beskerm.
Maar daardie tyd was verby. Van die beginjare, toe Israel die Here met oorgawe liefgehad en gevolg het, was daar in die tyd van Jeremia nie veel meer oor nie. Hulle het die Here verlaat; Hom vergeet (vers 13, 32).
Hoe gebeur dit dat mense God vergeet? Dit lyk my dit gebeur as dit met jou goed gaan. As jy nie wakker hoef te lê oor die vraag waarvan gaan jy môre leef nie. As jy nie meer hoef te bid: “Gee my elke dag my dag se brood” nie.
Die tragedie is net: as jy God vergeet, bly dit nie daar nie. Dan draai jy na ander dinge om jou geestelike dors te les: politiek, geld, sport, tegnologie … Maar dit is soos gebarste waterbakke.
Views: 12