Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. (vers 7)
Josua moes baie groot skoene volstaan. Hy het immers die Israeliete se groot leier Moses opgevolg. En nou is dit sý taak om die beloofde land Kanaän in besit te gaan neem.
Ek stel my voor Josua se broek het gebewe, net by die gedagte. Dis op hierdie moment dat die Here hom moed inpraat vir die groot uitdaging wat wag. “Wees sterk, wees vasberade,” sê God vir hom. Want daar wag vyandige volke op hulle, en hulle sal nie die land op ’n skinkbord vir Josua gee nie.
Maar dit was nie Josua se grootste uitdaging nie. Groter as die oorloë wat wag, is die uitdaging om naby God te bly. Daarom sê God: “Wees _veral_ sterk en _baie_ vasberade in die uitvoering van die wet van Moses.”
Vandag is die uitdagings met die korona-pandemie ook oorweldigend. Maar groter as die pandemie is die uitdaging om naby God te bly, ondanks die listige aanslae. Hoe sê die Here? As jy aan sy Woord getrou bly, “sal jy voorspoedig wees …”
Views: 32