… die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! (Jer 5:31)
Die Here se uitspraak in vers 1 herinner sterk aan sy gesprek met Abraham, toe Hy aangekondig het dat Hy Sodom en Gomorra gaan verwoes. Abraham pleit by God om die stede te spaar as Hy daar selfs net tien regverdiges kry, maar daar was nie eers dié klein getal nie (Gen 18:32-33; 19:24-25). Nou verklaar God aan Jeremia dat as daar selfs net één is wat reg doen, sal Hy die stad vergewe (vers 1). Maar – helaas – daar was niemand. Van die geestelike leiers tot by die gewone mense was daar net afvalligheid (vers 4-5).
Die situasie (vers 31) herinner aan talle sg. kerke (kultusse?) vandag, waar die geestelike leier(s) met die afskuwelikste misleiding en ander vieslike sondes wegkom, soos dit nou weer aan die lig gekom het oor TB Joshua se kultus in Nigerië. Hy het mense verblind, sodat selfs aanranding en verkragting vir hulle aanvaarbaar was.
Die Franse filosoof Voltaire het gesê mense sal enige iets glo as dit in die gedaante van godsdiens aan hulle opgedis word. Pasop! Satan doen hom voor as ’n engel van die lig (2 Kor 11:14).
Views: 9