Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. Dit het gebeur aan die Kebarrivier in Galdeërland. Die mag van die Here het vir Esegiël daar in besit geneem. (Eseg 1:3)
Die jong priester Esegiël is in 597 vC saam met koning Jojagin en die room van die bevolking na Babel weggevoer. Dis nou 5 jaar later. Die nuus uit Juda is nie goed nie, want Sedekia, wat in Jojagin se plek as koning aangestel is, maak al die verkeerde keuses, sodat die totale vernietiging van Jerusalem net ’n kwessie van tyd was.
Die ballinge het gedink Jahwe, die God van Israel, het verloor teen die Marduk, die magtige god van die Galdeërs. Jahwe, hulle God, was nie in staat om hulle teen Marduk te beskerm nie. Dit was ’n verpletterende gedagte.
Dit was Esegiël se situasie (en gemoedstoestand) op daardie dag toe God aan hom verskyn het by die Kebarrivier. Hy was ver van die tempel af, en het gedink hy is ook ver van God af. Dan verras die Here hom met hierdie verbysterende, oorweldigende verskyning. God was nie ver weg en verslaan nie. Hy is die Almagtige God van hemel en aarde.
God is groter as Esegiël en sy mede-ballinge se probleme, en joune!