Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?” (vers 2)
CJ Langenhoven het gesê: “Ons is almal ywerig vir die verbetering van ons naaste.” Ons kyk graag veroordelend na ander. Jesus het gesê ons moet eers die balk uit ons eie oog uithaal voordat ons ons moeg maak met die splinter in ander se oë (Matt 7:3-5).
Hierdie gesindheid het ook geskuil agter die woorde van die mense wat vir Jesus kom vertel het van die klomp Galileërs vir wie Pilatus in die tempel laat doodmaak het (vers 1). Hulle wou hê Jesus moes sê dat hierdie mense hulle verdiende loon gekry het. Maar Jesus doen niks van dié aard nie. Wees liewer oor jou eie lewe begaan, sê Hy.
En dan vertel Hy die gelykenis van die vyeboom in die wingerd. Met dié gelykenis verskuif Jesus ons fokus weg van ander mense na onsself. Want die vyeboom is simbool vir die volk van die Here, vir die kerk. Dis by óns wat die hemelse Eienaar kom vrugte soek. Daarom: moenie om jou kyk en vra wie is die grootste sondaar nie. Kyk na jouself en vra jouself af: is daar vrug in my lewe?
Views: 16