Jy het jou gedra soos ’n skaamtelose hoer. (Eseg 16:30b)
Hierdie is die langste hoofstuk in die boek. Esegiël gebruik die metafoor van die huwelik en huweliksontrou om die Jode se ontrou teenoor die Here bloot te lê. Onthou dat huweliksontrou ’n metafoor vir afgodsdiens is.
Esegiël spel in geen onduidelike beelde nie die aakligheid van die Jode se afgodsdiens uit. Hy begin daar waar God Hom ontferm oor Jerusalem, ’n weggooikind (vers 4-5). Deur God se troue liefde en vertroeteling het hierdie weggooikind ’n pragtige jong vrou geword (vers 7-8). En dan die teleurstelling: die Jode gooi God se liefdevolle sorg in sy gesig terug en hoereer met al wat ’n afgod is. Die grafiese beelde wat Esegiël oproep, is walglik en skok ’n mens se vroom gemoed. Maar dit is wat die mens se ontrou aan God doen.
Gelukkig eindig die verhaal nie daar nie, want God gee nie sy mense maklik prys nie. Daarom belowe Hy verbondsherstel en -vernuwing (vers 60) met die einste mense wat Hom verlaat het. En hierdie keer waarborg Hyself die blywende krag daarvan (vers 62).
Op Golgota het hierdie belofte van God waar geword. Hy het Hom met ons versoen ten spyte van wat ons gedoen het (vers 63; vgl Rom 5:8).