Adam, Set, Enos, Kenan, Mahalalel, Jered, Henog, Metusalag, Lameg, Noag. (1 Kron 1:1-4a)
Wat ’n vreemde manier om ’n boek te begin, so sonder enige aankondiging! Net ’n ellelange geslagsregister (wat tot aan die einde van hoofstuk 9 sal aanhou).
Mense het al na hierdie hoofstukke verwys as die verveligste deel in die hele Bybel, en vir ons is dit dalk. Maar vir die mense vir wie die Kronis – so verwys kommentare na die skrywer(s) van die boek – skryf, naamlik die Jode ná die ballingskap, was dit baie betekenisvol. Dit het vir hulle gewys hoe hulle in die groter wêreld met die omringende volke inpas. En uiteindelik loop dit uit op koning Dawid en die ordening van die Levitiese priesterskap.
Die skrywer begin by Adam, en vat sy lesers terug na die heel begin, waar God self aan die werk was (en steeds is). Die Jode het nie sommer uit die lug geval nie. Hulle het ’n plek binne God se groot beplanning.
Dis natuurlik vir ons ook belangrik om ons konteks te verstaan en te weet waar ons inpas. Ons wil graag ons voorgeslagte se verhaal ken, en ook hoe ons deel van die groter Suid-Afrika-konteks is.
Die belangrikste is: ons is deel van God se groot familie.