Maar Ek het My bedwing en gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie. (Eseg 20:22)
In hoofstuk 14, toe die Joodse leiers ook die Here deur Esegiël wou raadpleeg, het hulle dieselfde afwysende antwoord van God gekry. Jy kan nie, terwyl jy ontrou aan die Here leef, verwag dat Hy jou sal antwoord as jy Hom raadpleeg nie (vers 31; vgl Jak 4:3).
Die Here se reputasie onder mense hou direk verband met hoe gelowiges leef. Vir baie ongelowiges is ons, Christene, die enigste getuies oor God en sy liefde vir die wêreld. Jesus het dit só gestel (Matt 5:14): “Julle is die lig vir die wêreld.” Dáárom het God daarteen besluit om Israel te vernietig, want as Israel verdwyn, was daar nie meer getuies wat hulle na Hom kon lei nie (vgl Jes 49:6).
Ons moet goed begryp hoe belangrik ons getuienis in die wêreld is. Hoe ons leef, raak nie net ons verhouding met God nie; dit raak ons boodskap na die wêreld. Ons ís die boodskap. Sonder ons sal die wêreld van God vergeet.