Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies. (2 Kron 28:14)
Agas was ongetwyfeld een van die goddeloosste konings van Juda. ’n Mens walg eintlik as jy lees dat hy sy eie kinders geoffer het (vers 3). Hy het God se steun volledig verbeur, en hoe slegter dit gegaan het, hoe paniekeriger het hy geword en enige ding gedoen om sy situasie te beredder, behalwe om na die Here terug te keer. Uiteindelik het hy selfs die tempel gesluit (vers 24)! Die Kronis sê hy het die Here uitgetart (ver 25), al het hy ewe skynheilig vir Jesaja gesê hy sal nie die Here tart nie (Jes 7:12; lees gerus daardie hoofstuk).
En tog, te midde van hierdie laagtepunt in Juda se bestaan, gebeur daar ’n aangrypende ding wat wys dat God nie weg is nie. Israel het Juda verpletterend verslaan en 200 000 vroue en kinders krygsgevange geneem. Toe gryp God in by monde van sy profeet Oded (vers 9), en soos die barmhartige Samaritaan in Jesus se gelykenis, ontferm hierdie Samaritane hulle oor die krygsgevangenes. Hulle het hulle geklee en hulle wonde versorg, op donkies gelaai en saam met die buit teruggeneem na Juda (vers 14-15).
Views: 8