Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster. (Eseg 23:11)
Die gelykenis van die twee susters is ’n kommentaar op die twee koninkryke van Israel en Juda. Esegiël maak gebruik van die beeld van seksuele losbandigheid en skets daardeur die politieke dwaasheid en godsdienstige afvalligheid van die twee ryke. Israel was berug vir afgodsdiens. Opgrawings in die hoofstad Samaria het bykans 500 voorwerpe van afgode blootgelê. En, sê Esegiël, Juda was nog erger (vers 11).
Esegiël is baie kru in sy vertelling, want hy probeer sy hoorders skok, sodat hulle sal besef watter pyn mense die Here aandoen as hulle ontrou aan Hom is. Hy waarsku teen godsdienstige afdwaling wég van die Here af. Hiervoor is owerspel ’n metafoor, maar dis nie al nie. Die metafoor is ’n sosiale werklikheid en daarom waarsku Esegiël ook teen onsedelikheid.
Esegiël se boodskap is dat Juda (soos Israel) van die begin af ’n ontroue volk was, en daarom God se straf verdien. Dit sal ons goed doen om ook óns eie geskiedenis en die huidige stand van sake krities te bekyk en te vra of ons in die regte verhouding met God leef.