Ek maak aan jou bekend dat die Here vir jou ’n koningshuis sal vestig. (1 Kron 17:10)
Die Here was goed vir Dawid. Onder sy bewind het daar vrede in die land gekom. Hy het die ark na Jerusalem gebring en die godsdiens georganiseer, omdat die woestyn-reëlings onnodig was noudat Israel nie meer ’n swerwersvolk was nie. Dawid se godsdienstige hervormings het ’n ingrypende en blywende wending in Israel se geloofsbeoefening tot gevolg gehad het. En nou, om die Here te eer, wou hy ’n tempel vir Hom oprig.
Dis mos hoe ons ook redeneer. Om dankie te sê vir al God se sorg en voorsiening, wil ons graag vir Hom iets doen, soos Dawid. Maar God was nie te vinde vir dié plan nie. Dis nie Dawid wat in beheer is nie. God is. Sy plan vir Dawid is baie groter as wat Dawid ooit kon droom. Nie Dawid wat vir God ’n huis bou nie, maar God wat vir Dawid ’n koningshuis, ’n dinastie skep (vers 10).
Paulus skryf later (Rom 11:35): “Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
Natúúrlik wil God ons alles hê, maar dan nie as terugbetaling vir sy goedheid nie. Dit gee Hy verniet.