Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is. Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen. (Eseg 17:14)
Die fabel van die wingerdstok, die seder en die arende (vers 1-10) word heeltemal duidelik uit die verklaring in vers 11-21. Die koning van Israel, wat deur Nebukadnesar in die plek van Jojagin aangestel is, het sy kaarte verkeerd gespeel. In plaas van by die verdrag met Babel te hou, vry hy na Egipte. Dit sal sy einde beteken, sê die Here (vers 16-21).
Leiers se politieke speletjies, eiebelang en korrupsie (klink dit nie bekend nie?!) is nie die antwoord nie. Moet op prinse nie vertrou nie, sing ons mos in Ps 146. Ons heil lê nie by mense nie. Dit lê by God. Hý kan situasies, hoe hopeloos ook al, omkeer en nuut begin. Hý verander die lotgevalle van mense en bring die hoogmoediges tot ’n val. Hy laat die onwaarskynlike gebeur. Onder sy gesag verdroog groen bome en word klein boompies groot. Hy bring nuwe lewe waar ons dit nie verwag nie. Droë bome laat Hy bot (vers 14).
Dis mos die evangelie!
Views: 54