Maar hulle sal aan hom onderhorig word, en hulle sal agterkom wat dit is om My te dien en wat dit is om die konings van ander lande te dien. (2 Kron 12:8)
Die Kronis gebruik die lewe van Rehabeam om te illustreer hoe nou God betrokke is by die lotgevalle van sy mense. Die Here is die Een wat toelaat dat Jerobeam en die noordelike stamme wegbreek (10:15 en 11:4); Hy is die Een wat voorspoed gee aan wie Hom gehoorsaam (11:4b). Hy het aan Rehabeam militêre sukses gegee (11:5-12); Israel se ondersteuning (11:13-17) en ’n groot nageslag (11:23-28). Aan die ander kant is dit uit Rehabeam se lotgevalle duidelik dat ontrou aan die Here tot rampspoed lei (12:2). Dis net verootmoediging en berou voor die Here wat hulle lot sou verander (12:12).
Die boodskap van die Kronis aan sy lesers wat in ballingskap verkeer het, is duidelik: die pad na vryheid en die verligting van hulle ellende het gelê in die terugkeer na God en verootmoediging voor Hom. So nie wag daar rampspoed.
Jesus verwoord hierdie waarheid effens anders. Hy het gesê (Matt 11:28): “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Kyk ook na Joh 3:36.