God het Jerobeam en die hele Israel ’n neerlaag laat ly teen Abia en Juda. (2 Kron 13:15)
In sy kort regeringstyd van 3 jaar kon Abia nie veel uitrig nie. Hy het nie die godsdienstige verval wat tydens sy pa se bewind ingetree het, met mening uitgeroei nie. Daarom oordeel die skrywer van die Konings-verhaal baie negatief oor hom (1 Kon 15:3). Die Kronis, wat anders na die geskiedenis kyk, vertel egter vir ons dat hy sy soldate in ’n oortuigende oorwinning oor die oormag van Jerobeam aangevoer het, maar haas hom om by te voeg dat dit God was wat Jerobeam se mag gebreek het (vers 15). Min word eintlik gesê van die geveg self, behalwe dat dit wil lyk asof Jerobeam se soldate deur die trompetgeklank van die priesters beangs geraak het.
Die gebeure bevestig die woorde van Abia se oupa Dawid in Ps 18:30 – as God by jou is, is geen oormag vir jou te sterk nie (lees gerus Dawid se aangrypende belydenis in verse 26-32). Ons kan vandag terugkyk op ’n lang geskiedenis wat dit bevestig. God is getrou en Hy laat nie dié wat op Hom vertrou, in die steek nie.
Dit is ook waar van die uitdagings wat ons vandag moet aandurf.
Views: 6