En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie.” (vers 38)
’n Mens kan nie glo dat dinge só skeef kon loop met Jesus se verhoor nie. Onskuldig bevind, en tog gekruisig. Dit was van begin tot end ’n bekookte hofsaak waarvan die vonnis lank voordat dit begin het, reeds gevel is.
Die duiwel het daardie oggend waarskynlik sy hande in genoegdoening gevryf. ’n Klinkende oorwinning vir die duisternis, of hoe?
Néé! Dan het ons sleg gelees wat die Bybel ons leer. Dit is wel so dat Jesus se verhoor ’n skreiende verkragting van die reg was. Dit is so dat die duiwel die Jode gebruik het om die Seun van God te vermoor. Maar dit is ook so dat God die hele tyd in beheer was. Jesus het self vir Pilatus gesê: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie” (Joh 19:11).
Jesus se sterwe was Gód se plan, nie die duiwel s’n nie. Hier was immers ’n ánder hofsaak aan die gang waarin God die Regter is, en óns die skuldiges. Net, ons is nie gestraf nie. Jesus is. Dit is die Evangelie!
Views: 12