Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met ’n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. (2 Kron 21:6)
Dit bly ’n raaisel hoe dit kan gebeur dat ’n ouer soos Josafat, wat naby die Here geleef het, só ’n deugniet vir ’n seun kon hê. Menige ouer worstel met dié vraag as hulle kind nie op die regte pad bly nie. Sonde bly ’n misterie.
Dis nie net Josafat se seun nie. ’n Hele paar ander Bybelfigure se kinders het ook van God weggedraai, soos Eli, Samuel en Dawid s’n. Dalk het Josafat ’n aandeel aan Joram se keuses gehad. Josafat se vriendskap met Agab het van die begin af net moeilikheid gebring. Die glans van Agab en Isebel het hom verblind, en met Atalia aan Joram se sy was die uiteinde eintlik te verwagte.
Al wat ons uiteindelik oor Joram kan sê, is dat God nie slaap nie (vers 12-15). En dat ons aan God se genade moet vasklou, ook vir ons kinders se heil. Net Hy kan ons kinders op die regte pad hou.
Views: 13