Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang. (vers 4)
Die verleiding om van God afvallig te raak, kan uit verskillende oorde kom, waarsku Moses. Dit kan kom van een of ander dinamiese of charismatiese leier wat almal agter hom of haar aansleep (vers 1-2). Of dit kan ’n familielid wees wat jou in ’n vreemde of nuwe rigting in wil druk (vers 6). Die uiteinde is dieselfde: opstand teen God (vers 5), ontrou aan die Here (vers 10).
Die groot vraag is natuurlik: hoe weet jy dis ’n verkeerde weg? Dalk is dit maar net ’n nuwe manier om God te dien?
My pa het gesê, as hy moes besluit oor ’n beroep, die Here het hom gelei tot waar hy is, en voordat die Here nie baie duidelik vir hom wys om te trek nie, bly hy waar hy weet die Here hom geplaas het. Dit geld van nuwe idees ook. Maak baie seker dit kom van die Here. Toets dit wat mense sê, aan wat jy weet uit die Bybel. As die “nuwe” weg nie die toets van die Woord deurstaan nie, bly weg.
Views: 6