Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. (2 Kron 36:19)
Ná Josia se dood in 609 vC was die verval vinnig – van ’n gerekende koninkryk tot ruïnes in net 23 jaar. Jerusalm is in 586 vC ingeneem. Die vernietiging was omvattend, en die menseverlies ondenkbaar. Die Galdeërs was genadeloos. Die Koninkryk van Juda sou nooit weer herrys nie. ’n Mens kan jou nie die ellende regtig indink nie. Ps 137 verwoord iets daarvan.
Dit was nie onverwags nie, soos die Kronis gou is om ons te herinner. By monde van die profeet Jeremia het God gewaarsku en gepleit, en uiteindelik sy hand van Jerusalem teruggetrek (vers 21).
En tog was God nie klaar met sy volk nie. Tydens die ballingskap het twee ander profete die ballinge se hoop laat opvlam: Esegiël en Jesaja het ’n tyd verwag waarin God weer as Herder vir sy volk sou optree. Iets daarvan het begin realiseer toe die Persiese koning Kores in 538 vC ’n bevel uitvaardig wat die ballinge toegelaat het om na hulle geboorteland terug te keer.
Dat dit kon gebeur, is net genade van Bo. Só is God, vandag nog.
Naskrif: Ons het nou die hele Bybel deurgelees! Ek beplan om met hierdie rubriek voort te gaan, want die Bybel bly God se stem in ons lewe. Môre begin ons (DV) die Brief aan die Efesiërs lees, en Sondae kom die Psalms aan die beurt.
As jy van my vorige dagstukkies wil lees, kan jy gerus op my webwerf gaan kyk by https://bybelkoerant.co.za/lees-die-bybel-saam-met-my/
Seënwense!