Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. (Heb 1:3)
Die brief aan die Hebreërs is geskryf aan mense wat moeg geword het om te glo, om hulle aan te spoor om te volhard – want tóé al was die probleem daar dat mense geestelik moeg en afgestomp geword het en selfs gevaar geloop het om op te hou glo.
As ék nou aan sulke mense moes skryf, sou ek dalk met ’n verwyt begin het: Wat het van julle geword? Hoekom sien ons julle nie meer in die kerk nie?
Hebreërs begin heel anders. Nie met die lidmate se laksheid en koudheid nie, maar met Jesus. Hy teken ’n prentjie van die wonderlike Here wat ons volg. Hy vertel van sy heerlikheid en goddelikheid, dat Hy ons van ons sonde gereinig het, en dat Hy na die hemel opgevaar het om sy ereplek aan die regterhand van die Vader in te neem (vers 3).
Nie jou traagheid nie, maar Christus se heerlikheid. Dáár begin God, ook met jou!
Views: 14