As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. (1 Joh 2:9)
Met ’n jeugdiens het die kerkraad dit goed gedink om al die koshuiskinders van die plaaslike hoërskool na die erediens te nooi. Dit was ’n Afrikaanse skool, maar die oorgrote meerderheid van die kinders was bruin en swart. Daardie oggend was die kerk vol kinders, en ons het ’n geseënde erediens gehad. Ná die tyd sê ’n lidmaat vir my dis reg so, ons kan seker maak wat ons wil en nooi wie ons wil, maar ek moet net weet: as ons weer so maak, sal sy nie haar voet in die kerk sit nie.
Dis natuurlik ’n nadraai van Apartheid. Daar was ’n tyd toe ’n groot deel van die gemeente so sou gereageer het. Genadiglik was dit dié keer net die een lidmaat. Johannes sê as ons só dink oor die kerk en wie welkom is en wie nie, leef ons steeds in die duisternis (vers 9). Dan is my Christenskap ondergeskik aan my Afrikanerskap.
Ek het in my hart gehuil toe ek huis toe gegaan het. Hoeveel onbekeerde harte is daar in die kerk?
Views: 8