Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. (1 Joh 3:16)
Haat teenoor liefde. Moord teenoor jouself weggee. Kain teenoor Jesus. Dís hoe radikaal ons navolging van Jesus is.
Die liefde waarvan Johannes hier skryf, is agapé, dié soort liefde wat gee sonder om terug te verwag. William Barclay vertaal dit met “onvernietigbare goedgesindheid”. Dis nie ’n liefde waarmee die wêreld gemaklik is nie (vers 13), want dit trek ’n streep deur alle vorme van selfsug en selfverryking en eersug. Daar is ’n sagtheid in hulle wat so liefheid, ’n genaakbaarheid, ’n warmte. G’n wonder nie dat Jesus gesê het dat die wêreld sal weet dat ons aan Hom behoort as hulle dié liefde onder ons beleef (vgl Joh 13:35).
Die vroeë kerk het met rasse skrede gegroei, juis omdat daar ’n besondere liefdesband tussen gelowiges was (vgl Hand 2:47). Dit is, helaas, nie meer so nie. Kerke en gemeentes baklei met mekaar en skeur; dit gaan dan kwansuis om die korrekte verstaan van die Bybel. Maar ten diepste lê dit by die vraag of ons liefhet en daarin slaag om mekaar in liefde te verdra (vers 11; Ef 4:2).