Daar het hy vir Akwila, ’n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom … (Hand 18:2)
In Korinte ontmoet Paulus ’n Christen-egpaar wat lewenslange vriende van hom sou word: die Jood Akwila, en sy Romeinse vrou Priscilla. Klaarblyklik was hulle huis ’n gasvrye woning. Paulus het by hulle gebly in Korinte, hulle het Apollos na hulle huis genooi in Efese (vers 26), en later, in Rome, was hulle prominente gelowiges (Rom 16:3).
Interessant dat Lukas meermale Priscilla se naam eerste noem (vers 18 en 26). Kommentatore lei af dat sy van ’n hoër stand as Akwila was en dalk ook leiding geneem het in hulle verhouding. Saam was hulle egter ’n formidabele span wat nie net Christelike gasvryheid beoefen het nie, maar ook onderrig gegee het, soos hulle interaksie met Apollos in Efese toon (vers 24-28). Hulle het selfs hulle lewe vir Paulus gewaag (Rom 16:4), moontlik ook in Efese (Hand 19:21 e.v.).
Christen-wees behels meer as ’n belydenis en ’n binnekamer-lewe. Dit vra van jou om geleenthede om die Here te dien, raak te sien en aan te gryp, soos Priscilla en Akwila. Die Here het jou nodig!