Jy moet onthou jy was self ’n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee. (vers 15)
Die manier waarop Israeliete hulle slawe behandel het, was baie anders as wat die omringende volke gedoen het. Hulle het hulle slawe op ’n menslike manier behandel, omdat hulle in hulle eie geskiedenis beleef het wat dit beteken om ’n slaaf te wees, soos Moses hulle hier herinner.
Dit wat jy vandag is, hoe jy oor jouself dink en hoe jy teenoor ander optree, is die resultaat van jou verlede. Jy ontwikkel deernis met iemand wat seer het of swaarkry wanneer jyself al deur die meule is. Dit is hoe die Here ons skaaf en vorm om aan ons roeping as sy beelddraers te kan beantwoord (vgl Paulus se woorde in Rom 5:3-5).
Natuurlik is daar ’n ander deel van ons verlede wat elke dag ’n rol behoort te speel in hoe ons dink en optree, en dit is wat in Eden gebeur het en ’n realiteit van ons elkeen is. Dit moet maak dat ons met sagte oë na ander kyk en nie so gou wees om die splinter in ander se oë uit te wys nie (Matt 7:1-5).
Views: 8