Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: “Jy’s mal, Paulus! jou groot geleerdheid maak jou mal!” (Hand 26:24)
Festus se reaksie op Paulus se getuienis dat Christus uit die dood opgestaan het, is vandag nog die reaksie van mense wat staan en val by dit wat deur die wetenskap bewys kan word. Hulle dink ons wat glo, hou nie rekening met die werklikheid nie. Jesus se opstanding uit die dood en ook sy maagdelike geboorte is vir hulle ’n onoorkombare struikelblok.
As ’n mens doodeerlik is, ís dit ’n groot sprong om te glo, want dit plaas jou op die terrein van die misterie en die onbewysbare. Kortom, geloof berus nie op bewysbare feite nie (Heb 11:1). Die feit dat jy glo, is genade. Daarom is dit onmoontlik om iemand wat nie onbewysbare wil feite aanvaar nie, tot geloof te oortuig. Soos Festus sal so ’n persoon ongeraak bly met jou redenasies. Dis soos om pêrels voor die varke te gooi (Matt 7:6).
Moet ons dan maar handdoek ingooi en niks doen nie? Nee! Maar ons het die wysheid van die Gees nodig oor wanneer om te getuig en wanneer om te swyg. Oorlaai die ongelowige met liefde (vgl 1 Pet 3:2). En bid!