Julle kyk net na een kant van die saak. As iemand dan so vas oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy onthou: ons behoort net soos hy ook aan Christus. (2 Kor 10:7)
Menige meningsverskil het al ontstaan omdat mense ’n saak beskou en beredeneer slegs vanuit hulle eie perspektief, en nie wil of kan insien dat die een met wie hy of sy verskil, ook ’n geldige standpunt het nie. Ek moet erken dat dit een van die moeilikste goed is wat ek moes leer, naamlik dat ek nie alleen reg is nie, of dat mý manier van doen nie die enigste geldige, of noodwendig die beste, aanpak van ’n saak is nie.
Dit was presies Paulus se probleem met die “apostels” wat ná hom in Korinte kom arbei het. Hulle, en agter hulle aan die gemeente, het eenogig na apostelskap gekyk, en gedink dié “nuwe” apostels se manier van doen was die enigste manier wat reg is. In die proses het hulle Paulus die rug toegekeer. Daarom herinner Paulus hulle daaraan dat hy ook ’n gelowige is, en meer nog, deur Christus afgesonder is om in sy diens te staan (vers 8).
Jy het nie al die wysheid in pag nie. Daarom is beskeidenheid ’n deug.
Views: 0