Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. (2 Thes 3:13)
Paulus herinner die Tessalonisense dat hy dag en nag geswoeg het om nie vir hulle ’n las te wees nie (vers 8 en 9). Daarom het hy vrymoedigheid om hulle aan te moedig om ook soos hy hulle kant te bring.
Dalk het jy al gevoel dis nou genoeg. Jy kan nie meer nie. Jy kan nie maar net aanhou en aanhou om die regte ding te bly doen nie. Niemand sien tog raak wat jy doen nie, dink jy dalk. Boonop is daar ander mense om jou, jou kollegas en kennisse, wat lyf wegsteek en daarmee wegkom. Hoekom sal jy dan jouself dag na dag afsloof?
Hierdie woorde van Paulus in vers 13 is vir jou en ander gelowiges wat moeg en selfs uitgebrand raak van goed doen, en wat voel genoeg is genoeg. Onthou dan dat God sien wat jy doen, al sien ander dit nie raak nie, en dat Hy dit nie sal vergeet nie (vgl Heb 6:10). Hy sien wat jy doen, ook wanneer niemand anders by is om dit te sien nie. En eendag, in die hiernamaals, sal dié dinge ’n sieraad vir jou wees (Op 14:13b).
Views: 11






