1 Pet 2:9-17

Hoekom het God jóú gekies? Natuurlik sodat jy eendag deel van sy nuwe wêreld kan wees. Natuurlik sodat jy deel van sy groot familie kan wees, gered deur die bloed van sy Seun. Natuurlik omdat Hy jou liefhet en jou aangeneem het as sy kind, sodat Hy vir jou kan sorg en voorsien en jy in ’n verhouding met Hom kan staan.

Maar ook sodat jy hier op aarde deel van God se reddingsplan vir die wêreld kan wees. Petrus gebruik hier ’n hele rits begrippe om dit te verduidelik, waarnatoe jy in die week weer gaan terugkom: uitverkore volk, koninklike priesterdom, nasie wat vir God afgesonder is, eiendomsvolk van God, wat die verlossingsdade moet verkondig, vreemdelinge en bywoners … ’n Hele mondvol. Dinge wat reeds van jou waar is, en dinge wat in jou lewe waar gemaak moet word … deur jóú. Ja, jý het ’n verantwoordelikheid, ’n roeping.

Om een van God se uitverkorenes is, bring fantastiese voorregte, én ’n ontsaglike verantwoordelikheid, want God wil hê jy moet daar wees vir ander, vir sy mense, vir sy wêreld. Dís waar jou roeping lê, teenoor God, en teenoor ander. Jy kan nie die een wil hê sonder die ander nie. Dit is hoekom Jesus in Matteus 16:24 gesê het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …”

Hoe lyk dit – sien jy kans?

Gebed: Ek wil U volg, Here Jesus!

image_pdfimage_print

Views: 11

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.