In die volgende paar weke kyk ons na enkele gedeeltes of konsepte in die Bybel wat dikwels verkeerd verstaan word, of wat moeilik is om te begryp. Ons begin met die vraag:
Hoekom het Saulus later Paulus geword?
Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees … (Hand 13:9)
Dikwels word gesê dat die groot sendeling-apostel Saulus van Tarsus ’n nuwe naam gekry het met sy bekering op die Damaskuspad; dat hy voor sy bekering Saulus genoem is, en ná sy bekering die naam Paulus gekry het (soos Abram Abraham geword het, en Jakob Israel).
Dit is egter nie korrek nie. Saulus, of dan Saul, was sy Joodse naam (Hand 9:4); vernoem na die grootste man uit die stam Benjamin – koning Saul, die eerste koning van Israel (1 Sam 9; vgl Fil 3:5). Saul het egter ook ’n Romeinse naam, Paulus, gehad wat hy gebruik het in sy omgang met nie-Jode. Waarskynlik het hy dié naam ook met geboorte gekry, aangesien hy ’n Romeinse burger was. Ons ken dié gebruik goed in Suid-Afrika, waar baie Afrikane ’n tradisionele naam én ’n Westerse naam het. Onder sy of haar eie mense word die tradisionele naam gebruik, bv. Rolihlahla, maar Westerlinge weet dikwels nie eers wat dié naam is nie, want by die werk is hy Nelson (om maar ’n voorbeeld te noem). Dit was die geval met Saul ook (in Afrikaans word die nominatiewe Latynse uitgang -us, soos in Latyn, behou; vandaar Saulus; in Engels het die nominatief weggeval en is die naam net Saul, of Mark, of Luke).
Waar Saul hoofsaaklik in ’n Joodse omgewing opgetree het, gebruik die skrywer Lukas sy Joodse naam, maar toe hy onder nie-Jode begin werk, skakel Lukas in sy vertelling oor na sy Griekse naam, Paulus (Hand 13:9). Die Romeinse naam het beter gewerk in ’n nie-Joodse omgewing. Dalk het hy dit gedoen omdat hy vir almal alles geword het (1 Kor 9:22) sodat nie-Jode beter met hom kon identifiseer. Daarom dat hy sy briewe ook met sy Romeinse naam onderteken.
Views: 139




