Tot alles in staat?

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Fil 4:13, AFR83)

Filippense 4:13 word dikwels gebruik as iemand voel hy of sy kan ’n groot uitdaging te bowe kom, of ’n moeilike toets slaag, ens. Die AFR83-vertaling laat dit lyk asof dit presies is wat Paulus vir ons sê: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Die AFR20 help ons om dit beter te verstaan: Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.

Die sleutel vir die regte verstaan van Paulus se woorde lê in die “dit”. Die “dit” verwys na die voorafgaande verse, waar Paulus vertel van sy lewe van ontbering (vers 11 en 12). Die gemeente Filippi het hom ondersteun in die tronk, en nou bedank hy hulle daarvoor (vers 10), maar sê ook dat sy vreugde en krag nie afhanklik is van omstandighede nie. Hy het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees, of dit nou gebrek is, of oorvloed. As hy dus in vers 13 skryf dat hy tot alles in staat is, gaan dit daaroor dat hy alles wat na sy kant toe kom, kan hanteer, of dit met hom goed gaan of sleg, omdat Christus hom die krag daartoe gee.

Christus se krag is nie superkrag nie, maar volharding te midde van swaarkry. Hy sê nie, soos dikwels verkeerdelik afgelei word, dat hy enige iets kan doen wat hy wil nie. Sy geheim lê nie in oormatige selfvertroue nie, maar in nederige vertroue in Christus.

Paulus nooi jou uit om jou identiteit en krag nie in sukses of gemak te vind nie, maar in ’n lewende verhouding met Christus. ’n Beeld wat my help om dit te verstaan, is dié van ’n boom wat diep in die grond gewortel is. Of dit nou reën of droog is, die boom bly staan, want sy krag kom van die bron onder die oppervlak.

Só leef Paulus. En só kan jy ook.

image_pdfimage_print

Views: 80

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.